View Die vrou met die pers oog (Rillers) (François Bloemhof) (z library.sk, 1lib.sk, z lib.sk) flipbook.
Die vrou met die pers oog François Bloemhof Human & Rousseau
Hierdie boek is vir almal wat van grillerige goeters hou. F. B.
1 Die snaakse seun Toe die klok aan die einde van die eerste skooldag lui, gryp Chris sy tas en is eerste by die klas uit. “Sien jou môre!” roep Bertus. Chris kan nie glo hy het Bertus eers vanoggend ontmoet nie; dit voel asof hulle al lank maats is. “Cheers,” sê Chris. Sy pa en ma het albei vir hom en sy sussie, Martie, kom haal, want sy pa begin eers môre by sy nuwe werk. Martie is reeds in die motor toe Chris daar aankom. “Hoe voel dit om in graad agt te wees?” vra Chris se ma nadat hy ingeklim het en sy hom ’n soen op sy wang gee. “Nie veel anders as graad sewe nie.” Hy vee vies oor sy wang. Netnou is daar ’n lipstiffiemerk en een van sy nuwe maats sien dit, en dink hy’s ’n mamma-se-seuntjie. Daar is baie motors en hulle moet wag, want die parkeerarea is vol. “Chris, jou tas druk in my sy. Sit hom aan die ander kant,” brom Martie. “Jammer, U Edele,” sê hy en skuif sy tas weg. Chris se ma draai in haar sitplek om. Sy vryf vinnig oor sy rooibruin hare, dan oor Martie s’n. “My twee mooi kinders,” sê sy liefdevol. Chris wil sterf van skaamte. Bertus se ma se motor is nou net by hulle verby. Bertus waai vir hom en glimlag – te breed. Hy het gesien . . . Nou is Chris sommer vies. “Kan ons nie maar net asseblief ry nie?” sis hy deur sy tande. Sy pa het egter die wêreld se tyd. “Nou-nou, hier’s nog te veel motors wat wag om uit te kom,” sê hy, en maak eers ’n oproep op sy selfoon. Iets oor sy nuwe werk.
Skielik roep Martie uit: “Kyk daar!” ’n Seun kom aangeloop. Hy loop kop onderstebo en hy lyk skaam. Dit is duidelik hoekom: Sy kop is kaal geskeer, so kaal dat dit eintlik blink. “Flippit!” sê Chris. “Wat het met hóm gebeur?” “Die arme kind,” sê hulle ma, en skud haar kop. Die seun lyk al hoe ongemakliker. Hy weet almal staar na hom. “Ek het hom nie pouse by die skool gesien nie,” sê Chris. “Foei tog, hy het seker iewers gaan wegkruip,” merk sy ma op. Skielik begin Chris te lag. Die seun lyk nie net ongelukkig nie, maar ook snááks! ’n Mens dink mos net aan ou ooms as mense met kaal koppe. Die gedagte dat die outjie se kop dalk so glad soos ’n styf opgeblaasde strandbal voel, laat hom nog harder lag. “Sies, Chris!” laat sy ma hoor, “skaam jou!” Die seun loop by hulle motor verby. Hy kyk op en sien hoe Chris vir hom lag, en raak rooi tot by sy ore – maar sy kopvel bly darem pienk. Chris se lag droog op. Nou voel hy skuldig. “Jy moes nie vir hom gelag het nie,” sê Martie verwytend. “Dalk het hy ’n ernstige siekte en moes hy chemoterapie kry,” voeg hulle ma by. “Dit laat mos ’n mens se hare uitval. Arme ding.” Chris voel sleg en verander haastig die onderwerp. “Hoe gaan dit by die huis met die intrekkery?” “Dis maar nog deurmekaar,” sê hulle pa. “Maar gelukkig is my kantoor darem al uitgesorteer en skoon en netjies.” Hy glimlag en knik vir sy vrou. Hulle het ’n week gelede hierheen verhuis. Dit is nie ver van waar hulle eers gebly het nie, net ’n halfuur se ry, maar Chris en Martie moes na ’n nuwe skool toe gaan. “Ek mis my maats!” kreun Martie. “Nie naastenby so baie soos daai outjie sy hare mis nie!” Chris wil weer lag. Sy pa skakel die motor aan. Die meeste van die motors het die parkeerterrein verlaat; hulle kan maar ry. Net toe swaai ’n groot silwer motor voor hulle in om by die hek uit te jaag. Chris se pa trap rem en dit voel asof die hele wêreld ruk. Martie word teen Chris geslinger en haar elmboog tref hom in die wind. “Eina, man!”
“Jammer, maar ek kon dit nie help nie!” Chris kyk op. Dit lyk nie asof die vrou wat die silwer motor bestuur, geskrik het nie. Sy lyk eerder woedend. Sy wikkel haar vinger vir Chris se pa asof sy met ’n stout kind raas – asof dit hý was wat amper ’n ongeluk veroorsaak het. “Kan jy nou meer!” sê Chris se ma en skud haar kop. “Party mense darem!” Die vrou het goudgeel hare wat soos ’n wolk om haar kop staan. Sy dra ’n bril met sulke donker lense, dat jy nie haar oë kan sien nie . . . maar toe hulle verby haar ry en sy haar kop draai, wéét Chris sy gluur hulle aan. Toe is sy weg, met ’n brul van haar motor se enjin. “Is sy een van julle onderwysers?” vra hulle pa. “Ek het haar nie vanoggend in die saal gesien nie,” antwoord Chris. Maar hy het ook nie die kaalkop-outjie opgemerk nie. Dalk is hy net nie oplettend genoeg nie. “Dis die biblioteekjuffrou,” rapporteer Martie ewe plegtig. “Juffrou Pol.” “Juffrou Pol?” vra Chris. “Waar kry sy so ’n van? Pol!” Maar hy kry dit nie reg om hierdie keer te lag nie. Die skrik was te groot.
2 Juffrou Pol Die volgende dag gaan Martie tydens eerste pouse biblioteek toe. Sy is seker die juffrou het die vorige middag net kwaai gelyk omdat sy geskrik het. Die biblioteek is in ’n lokaal aan die einde van ’n ry klaskamers. Al die kinders is buite en die gange is leeg. Dit is baie stil hier. Martie loop verby leë klaskamers en haar voetstappe weerklink op die blink vloere. Sy loer by die deure in. Die klaskamers lyk snaaks so sonder kinders. Dit voel half grillerig. Sy kom by die biblioteek se swaaideur en stoot dit oop. Dit maak nie ’n geluid nie. Daar is niemand in die biblioteek nie. Martie kan dit skaars glo. Hulle klasonderwyser het hulle gister hiernatoe gebring, en dit het haar so opgewonde gemaak om al die boeke te sien, dat sy kon sweer die biblioteek sou pouses oorloop van leesgierige kinders. Daar staan ook twee splinternuwe rekenaars vir hulle om naslaanwerk te doen. Die swaaideur maak ’n klikgeluid toe dit agter haar toegaan en sy skrik. Sy is sommer vies vir haarself. Sy mag mos hier wees! Dis doodstil in die biblioteek. Teen die mure is plakkate met allerhande interessante inligting op. Daar is ’n toonbank, ’n klomp tafeltjies waar leerders kan sit en lees of huiswerk doen, en dan is daar natuurlik die boekrakke vol lekker boeke. Hoekom is hier niemand nie? Toe sy ’n geluid agter die toonbank hoor, gil Martie van skrik. Iemand kom agter die toonbank orent. Dis ’n vrou – juffrou Pol, met haar wollerige geel-blonde hare. Een van haar oë, die linkerkantse een, is groen. Maar die regteroog is pers!
Die oomblik rek en rek. Martie kan nie beweeg nie. Die pers oog hou haar vasgenael. Skielik is sy bang sy gaan nooit weer uit dié plek kom nie. Sy weet die swaaideur is nie ver agter haar nie, maar die vrou kan haar gryp lank voor sy daar kom. “Ek het nie geweet hier is iemand nie,” sê juffrou Pol. Daar is geen uitdrukking op haar gesig nie. Dan verdwyn sy weer onder die toonbank in. Martie kyk vinnig om. As sy hardloop, kan sy by die deur uit wees voor die juffrou weer opstaan. Maar dit is te laat, juffrou Pol het weer van onder die toonbank te voorskyn gekom. “Kan ek help?” “Ek . . .” Martie weet nie wat om te sê nie, want juffrou Pol lyk weer soos sy gister gelyk het. Albei haar oë is groen, en daar is nie ’n teken van pers in haar regteroog nie. Martie sluk swaar. Het sy haar dit net verbeel? Dit is donkerig hier binne. Dalk het die lig haar oog so gevang dat dit pers gelyk het. Maar sy onthou hoe hélder die pers was. “Kan ek help?” herhaal die vrou. Martie dink vinnig. Sy moet maak asof sy net senuweeagtig is omdat sy nuut is by die skool. “Ek is nuut hier in die skool, Juffrou,” sê sy, “en ek ken nog nie die biblioteek nie. Ek soek iets om te lees.” “Wel, jy het na die regte plek toe gekom.” Juffrou Pol beduie na die rakke. “Soek gerus maar daar.” Martie loop na die rakke toe. Sy sien uit die hoek van haar oog juffrou Pol het agter die toonbank uitgekom en agter haar kom staan. Martie gryp die eerste die beste boek. Sy kyk nie eens wat die titel is nie. “Dié een asseblief, Juffrou.” Juffrou Pol kyk haar agterdogtig aan, asof sy wag dat Martie haarself moet verraai. Sy neem die boek toonbank toe. “Skryf jou voorletter en van op die kaartjie.” Toe sy die boek stempel, sien Martie hoe skerp en rooi haar naels is. Sy gebruik die stempel soos ’n hamer – Tjappp! – en gee die boek aan. “Dit moet oor ’n week terug wees, Martie.” Hoe weet die vrou wat haar naam is? Sy het net haar voorletter op die kaartjie geskryf! “Goed, Juffrou,” sê sy en vlug na die deur toe. Martie kan die onderwyseres se oë op haar voel, maar eindelik is sy uit. Sy hardloop in die
gang af. Dit is asof sy juffrou Pol agter haar voel aankom – maar dit is ook asof sy verwag die juffrou gaan agter een van die oop klaskamerdeure vir haar wag om verby te kom, en dan . . . Toe is sy buite. Sy haal diep asem. Sy kom nou eers agter sy het haar asem opgehou die hele tyd vandat sy by die deur uitgestorm het. Sy kyk af na die boek wat sy in haar hand vasklem. Dis Hansie en Grietjie. “Ag, nee!” kreun sy. Chris gaan lekker lag as hy dít sien.
3 Broers en susters Tweede pouse staan Chris en Bertus uitasem langs die draad en sweet nadat hulle saam met ander ouens ’n bal rondgeskop het. Chris sien hoe Martie na hulle kant toe mik. “Hier kom my suster,” sug hy. “Myne ook!” sê Bertus. Daar is ’n meisie by Martie met net sulke rooibruin hare soos sy. Bertus het óók rooibruin hare. Die vier van hulle, dink Chris, lyk asof hulle familie van mekaar kan wees! “Haai, Bertus,” sê die meisie by Martie. “Jis, Engela.” Engela sê: “Dis my broer.” “En dís myne,” sê Martie. “Chris, ek wil gou met jou praat.” “Ek en Bertus praat nou, kan dit nie wag nie?” “Net góú!” Chris sug en rol sy oë vir Bertus. “Goed dan,” sê hy en loop saam met Martie na ’n boom wat eenkant staan. Die takke gooi lang skaduwees oor Martie se gesig. Hoekom lyk sy so bang? wonder Chris. “Juffrou Pol is nie ’n gewone mens nie,” fluister Martie. Chris lag. “Waarvan praat jy?” Maar hy sien hoe ernstig sy suster lyk. En hy onthou die gevoel wat hy gister in die motor gekry het. “Sy ís nie! Ek was nou net in die biblioteek. Sy het agter die toonbank uitgekom met ’n groen oog ’n pers oog. En toe is hulle albei weer groen!” “Martie . . .” Chris vat aan haar arm en voel hoe sy bewe. “Jy lees heeltemal te veel grilstories. Sulke goed gebeur nie in die regte lewe nie.
Kom by!” “Dis juis wat in stories gebeur! Daar is altyd iemand wat wéét iets is fout, maar dan wil niemand hulle glo nie.” Martie kyk hom vies aan. Chris sug. “Oukei, maar kan ons nie na skool hieroor praat nie?” “Nou goed dan.” Martie gaan roep vir Engela en hulle loop terug klaskamers toe. Chris kyk hulle agterna. Martie lyk skielik vir hom so weerloos. As daar regtig mense hier rond is wat anders is, sal Martie die regte prooi wees. Toe gewaar hy die kaalkop-outjie ’n ent weg, heeltemal op sy eie. Sy kopvel weerkaats die son se strale en lyk soos ’n pienk gloeilamp. Chris kyk skuldig weg. Hoe sou hy gevoel het as dit hý was? “Kom ons gaan solank rye toe, Bertus,” sê hy.
4 Vreemd . . . Donderdag se laaste paar minute by die skool voel oneindig lank. Dis heerlik buite, maar twee-en-twintig graadagts sit by hulle lessenaars vasgekeer en die enigste afleiding is ’n geskiedenisles. Die interkom kraak nie ’n sekonde te vroeg nie. “Seuns en dogters, ons het die volgende afkondigings,” kom die hoof se stem. Een van die skoolreëls is dat leerders na die interkom moet kyk tydens afkondigings sodat hulle volle aandag daar is. Vandag vind Chris dit moeilik om te maak of hy oplet. Iets is al heeldag fout met Bertus. Hy sit asof hy versteen is. Die onderwysers het gou moed opgegee om reaksie uit hom te kry. Chris ook. Vanoggend het Bertus by die hek ingeloop – sy pa het hom en Engela nie soos gewoonlik afgelaai nie – en skaars gegroet. “Wat’s fout?” wou Chris weet. “Niks nie.” Hy kon sién iets skort, en dit ook hoor aan Bertus se manier van praat, asof hy fluister. Gewoonlik het Bertus ’n harde stem. “Het jy slegte nuus gekry?” “Nee!” As ’n mens só nee sê, beteken dit ja. Chris het nie verder uitgevra nie. Bertus het die res van die skooldag ’n bekommerde trek op sy gesig gehad en het beweeg asof hy nie weet hy doen dit nie, asof hy in ’n beswyming is. Die klok lui en die leerders pak hulle boeke weg. “Bertus, ons kan oppak,” sê Chris toe hy sien dit lyk of Bertus nie eens die klok hoor lui het nie. Toe hulle in die gang afloop, is die meeste kinders al buite.
“Wil jy nie maar . . .” Chris bly stil, want hy besluit hy irriteer Bertus nou net. Die volgende oomblik verstar Bertus. Hy gaan botstil staan. “Wat is dit?” vra Chris. Bertus ruk hom reg. “Niks.” Net toe sien Chris vir juffrou Pol om die hoek verdwyn. Hy frons. “Is dit vir háár wat jy geskrik het?” “Nee.” Die antwoord oortuig hom nie. “Bertus . . .” “Los my uit!” skree Bertus en maak dat hy wegkom. Toe Chris by hulle motor aankom, groet hy skaars sy ma, so ingedagte is hy. Toe Martie inklim, sê sy dadelik: “Engela was die hele dag snaakserig, sy wou niks praat nie, en sy’t soos ’n zombie rondgeloop.” “Daar’s fout met Bertus ook,” sê Chris. “Dis mos húlle daardie.” Hulle ma wys na die twee kinders wat stadig wegloop. “Dalk is hulle ouers besig om te skei. Dit gebeur deesdae so dikwels. Of dalk is daar iets anders fout by die huis.” Dit sê steeds nie hoekom Bertus só gereageer het toe hy vir juffrou Pol gesien het nie, dink Chris. Sy nekvel voel kriewelrig toe hy onthou wat Martie gesê het: Juffrou Pol is nie ’n gewone mens nie. Hulle ma hou langs Bertus en Engela stil. “Wil julle saamry?” Engela is bleek. “Ons mag met niemand praat nie, Tannie.” Bertus sit vinnig sy hand oor haar mond. “Sy praat sommer nonsens. Ons is oukei, dankie.” Chris se ma trek weg. “Dis vreemd,” sê sy en kyk na die kinders in haar truspieëljie. Chris draai om en sien deur die agterruit hoe Bertus en Engela kop onderstebo loop. Hulle laat hom dink aan die boek wat Martie, in haar haas om uit die biblioteek te kom, uitgeneem het – Hansie en Grietjie moes net so ongelukkig gelyk het nadat hulle in die woud verdwaal het.
5 Pienk Vrydag “Geniet die dag!” roep hulle pa toe hy hulle by die skool aflaai. “Dankie, Pa ook,” roep Martie en Chris. Hulle gaan by die skoolhek in. Hulle kan sommer aan die kinders se opgewonde manier van praat hóór dit is Vrydag. “Sien jou later!” sê Chris vir Martie. “Oukei, baai!” Twee seuns loop by Chris verby, en hulle lag. “Sy kop lyk nes ’n eier!” hoor hy een sê. Chris weet sommer hulle praat van die kaalkop-outjie. Toe hy by die graadagts se rye kom, sien hy die outjie waar hy met sy rug na hom staan. Dalk moet hy met hom gaan praat; hy voel nog sleg omdat hy die ander dag vir hom gelag het. Toe draai die outjie om. Dis Bertus! Chris se mond val oop van verbasing. Hy onthou hoe Bertus gister gelyk het – ongelukkig, ja, maar met ’n dik bos rooibruin hare. “Hallo, Chris,” sê Bertus. Hy kyk af grond toe. “Hoekom lyk jy só?” “Ek . . . weet nie.” “Jy wéét nie?” Chris sien hoe van die ander ouens na Bertus beduie. “Hoe kan jy nie weet nie?” Bertus se gesig is rooi. “Ek wéét nie, sê ek!” “Het jou pa gesê jy moet jou kop laat skeer?” “Ek sê jou, ek wéét nie!” “Kan jy nie onthou nie?”
“Nee, niks nie. En my pa en ma weet ook van niks. Toe ek vanoggend wakker word, toe ís dit so.” Die môreson blink op Bertus se pienk kopvel. “Engela s’n ook.” “Lyk jou suster ook so!” roep Chris uit. “Ja. Ons kan nie . . . Ons weet nie een wat gebeur het nie. Sover ons onthou, het almal gisteraand nes altyd gaan slaap, en . . . vanoggend was ons so. My pa het gesê ons moet soos gewoonlik skool toe kom; dit sal net erger wees as ons vir mense wegkruip. My ma gaan ons vanmiddag dokter toe vat.” Iets val Chris by. “Hoekom was julle gister so ongelukkig?” “Wie?” “Jy en Engela.” Bertus lyk verbaas. “Wás ons?” “Ja!” Chris is verstom. Hoe kan Bertus nie onthou nie? “Ek weet niks daarvan nie.” Bertus vat aan sy gladde kop. “Nóú het ek rede om ongelukkig te wees.” Hy sien twee meisies wat agter hulle hande fluister. “Ag, gaan lag vir julleself, julle morone!” skree hy vir hulle. Toe hoor hulle ’n deur toeklap. ’n Ent van hulle af klim juffrou Pol uit haar silwer motor. Chris hou Bertus fyn dop, maar hy wys geen emosie nie. Chris vra: “Hoekom is jy nie meer bang vir haar nie?” Bertus frons. “Hoekom moet ek bang wees vir haar?” “Jy was gister.” “Was ek?” Die klok lui en hulle moet by hulle rye inval. Hier is iets ernstigs verkeerd, dink Chris – en hy sal uitvind wat dit is, al verloor hy meer as net sy hare in die proses! Hulle stap by die skoolgebou in. Na net ’n paar treë sien Chris die outjie wat eerste kaalkop was aankom. Sonder om te dink, kry hy hom aan die arm beet en pluk hom uit sy ry uit. “Luister, ek wil jou iets vra.” “Los my!” sê die outjie. “Ons mag nie in die gange praat nie!” “Net vinnig.” Chris kyk rond om seker te maak daar is nie ’n prefek naby nie. Chris trek hom uit die pad van die ander kinders. “Wat is jou naam?” “Kevin, en wat traak dit jou?” “Ek is Chris.” “Hulle gaan ons name opskryf!” “Ek wil jou net iets vra, oukei?” Die outjie knik.
“Watter kleur is jou hare?” Dit lyk of die outjie wil losruk, maar hy antwoord: “Bruin.” “Rooibruin, soos Bertus s’n?” Chris beduie, maar Bertus is al om die hoek. “Ja, rooibruin.” “Ek het dit gewéét!” Chris laat hom los en hardloop in die gang af. Hy is net betyds om laaste by die klaskamer in te gaan, voor meneer De Villiers die deur agter hom toetrek.
6 Ons moet! Tweede pouse gaan soek Chris vir Martie op die speelgrond. Hy probeer om nie na Engela te kyk nie – dit lyk ’n duisend maal erger om ’n meisie met ’n kaal kop te sien. “Martie, kom hoor gou hier,” roep hy. Hy vertel vir haar van Bertus en dat hy glad nie meer bang is vir juffrou Pol, soos wat hy gister was nie . . . Martie loer onderlangs na Engela en Chris sê: “So ek dink jy was reg. Daar ís iets baie vreemds aan daai vrou. Sy het definitief iets hiermee te doen!” “Maar wat?” vra Martie, en lyk weer van voor af benoud. “Dis wat ons gaan uitvind. Ons móét uitvind, want ons is dalk volgende.” Martie trek haar asem skerp in. “Hoe weet jy dit?” “Bertus, Engela en daai outjie, Kevin, het almal rooibruin hare. Nes ek en jy.” Martie se oë is groot en sy lyk bang. “Wat gaan ons doen?” “Een van die ouens in my klas bly naby juffrou Pol. Ek het haar adres by hom gekry.” “Hoekom?” “Want vanaand moet ek en jy na haar huis toe gaan en probeer kyk of ons iets kan uitvind.” “Ons kan nie!” Martie se oë rek nog groter. “Ons moet! Ons kan nie polisie toe gaan nie – hulle sal vir ons lag, want ons het geen bewyse nie.” “Ons moet vir Ma en Pa sê.” “Hulle het nou te veel goed om oor te dink; hulle het nie tyd vir sulke dinge nie. Dis ons saak dié, myne en joune. Wat sê jy, is jy in?”
Martie dink net vir ’n sekonde lank na. Sy kyk na waar Engela diep ongelukkig ’n ent van hulle af staan. “Engela onthou ook niks van wat gebeur het nie.” Martie probeer dapper glimlag. “Ek is in. Ons gaan vanaand soontoe!”
7 Nommer 13 Dit is net na agt en hulle is op pad na juffrou Pol se huis toe. Martie is bly Chris het gesê hulle twee moet dit saam doen; as hy op sy eie gegaan het, sou sy haar dood bekommer het oor hom. Hulle het vir hulle ouers gesê hulle wil net gou na een van Chris se klasmaats toe gaan. Chris wil ’n DVD by hom kry. Hulle ma was so verras omdat Chris sy suster saamgevra het, dat sy dadelik ja gesê het. Hoe nader hulle aan juffrou Pol se huis kom, hoe benouder raak Martie. Wat as sy hulle betrap? “Moenie so worry nie,” sê Chris, “ons is oukei. Ons moet net baie stil en versigtig wees. En dalk is sy nie eens daar nie.” Daar is niemand behalwe hulle op straat nie. Hier en daar gooi ’n eensame lamppaal ’n ligkol tussen die bome aan weerskante van die straat – wat hulle skaduwees verwring sodat hulle arms en bene stokkerig soos die bome se takke lyk. “Dis spookagtig,” sê Martie. “Moenie te veel daaraan dink nie.” Sy kyk verskrik om. “Het jy ook iets gehoor?” “Moenie my ook op loop jaag nie!” sê Chris vies. Hulle het vanmiddag by die huis op Google Maps gekyk presies waar die huis is. Nou is hulle by Dennestraat. Die huis is in die volgende blok. Hulle bereik Wilgerstraat. “Dis nommer drie dié,” sê Martie en wys na ’n nommer op ’n posbus. “Wat is haar huis se nommer nou weer?” “Dertien.” Natuurlik, hoe kon sy vergeet het? Dis ’n ongelukkige getal, dink Martie, maar sy sê dit nie.
Die wilgerbome op die sypaadjie se takke hang laag en bied skuiling soos wat hulle nader aan die huis beweeg. Toe is hulle voor nommer dertien. Martie het nie gedink die huis sal so normaal lyk nie. Sy het spits torings en afgedopte verf en tralies voor die vensters verwag. Maar die huis lyk normaal soos enigiemand anders se huis. Die voorkant is donker, maar daar brand ’n lig aan die regterkant. Chris kyk in die straat af om seker te maak niemand sien hulle nie. “Kom,” fluister hy. Martie se hart klop in haar keel. Sy onthou hoe die vrou in die biblioteek gelyk het met haar pers oog. Nou is dit aand en alles is erger in die donker . . . “Kom jy of bly jy?” fluister Chris. “Moenie simpel wees nie, ek kom!” “Sjjjtt!” Hulle sluip om die huis se hoek. Die venster waar die lig brand, is ’n paar meter voor hulle. Toe gil Martie amper, want ’n swart gedaante skuur teen haar been verby. Dis ’n kat, sien sy nou – gitswart met helder geel oë. Die kat blaas vir haar. Dit is so amper of Martie hardloop weg, maar sy bly staan. Die kat spring by die oop venster in. Vir ’n oomblik dink Martie hy gaan vir die vrou sê hulle is hier. Toe dink sy vies, diere praat mos nie . . . “Oppas vir takkies of droë blare,” sê Chris. “As dit kraak, sal sy weet hier is iemand.” Hulle sluip voetjie vir voetjie nader aan die verligte venster. Chris loer eerste in. “Wat sien jy?” fluister Martie. “Kyk self.” Sy staan op haar tone en sien juffrou Pol by ’n groot tafel sit. Voor haar is ’n bruin kledingstuk en sy is besig om dun drade daaraan vas te werk. Toe staan sy op. Martie duik plat. “Sy het my dalk gesien!” fluister sy vir Chris. Maar skielik gaan ’n lig in die vertrek langsaan aan. Hulle sluip soontoe en loer in. Juffrou Pol staan voor ’n vollengte spieël. Sy draai in die rondte en lyk ingenome met haarself. Nou sien Martie die kledingstuk is ’n jas. Dit lyk nie soos een van haar ma se jasse nie, dié een is nie van wol of van pels nie. Dit lyk ámper soos
pels, maar daar is iets vreemds daaraan. Juffrou Pol se wollerige hare skyn goudgeel in die lig van die gloeilamp. Daar is fout met die jas – dit is nie voltooi nie en het ’n oop kol op die linkerskouer. Die materiaal waaraan die draadjies vasgewerk moet word, wys duidelik. Toe gebeur dit . . . Chris skop per ongeluk ’n baksteen raak toe hy sy voet wou versit. Dit tref die muur met ’n harde slag. Die vrou kyk op, voor hulle kan platduik. “Hardloop!” sê Chris, maar Martie is alreeds ’n paar treë voor hom. Toe sy haar kom kry, is sy op die grasperk, toe op die sypaadjie. Chris is langs haar. Hulle hoor die voordeur oopgaan, maar kyk nie terug nie. Hulle hardloop al onder die wilgertakke deur. Dan is hulle in Dennestraat. Hulle kyk vinnig om, maar sien niemand nie, behalwe vir die kat. Hulle sou hom nie gesien het as hy nie op daardie oomblik deur die ligkol van ’n lamppaal gehardloop het nie. “Hy soek ons!” roep Martie uit. “Hoe weet jy dis dáái kat?” vra Chris. Hulle begin vinniger te hardloop. Martie is bang sy gaan val, en dan sal die kat . . . Wát sal hy doen? Hoekom volg hy hulle? Honde sal ’n mens volg, nie katte nie! Hulle huis is nie meer ver nie. Martie sien hoe Chris omkyk. “Vinniger!” sê hy en sy besef die kat het hulle amper ingehaal. Sy verbeel haar sy voel hoe sy kloue in haar kuit wegsink. Sy struikel en dit voel of sy haar enkel geswik het. “Eina!” roep sy uit. Toe hoor hulle die geblaf. Rex kom aangedraf om hulle te verwelkom. Martie kyk om na waar die kat behoort te wees. Hy is nêrens te sien nie. “Mooi, my honne!” sê Chris en vryf oor Rex se kop. Die hond se tong hang uit van blydskap om hulle te sien. Martie vat aan haar enkel. Dis gelukkig nie so erg seer nie. “Ons moet vir Pa-hulle vertel!” sê sy. “Wat sê ons? Dat ons by ’n onnie se huis gaan rondsnuffel het? En deur die venster gesien het sy pas ’n jas aan? Ons sal net in die moeilikheid kom omdat ons in die donker rondgeloop het. Onthou, ons het gesê ons gaan na een van my pelle toe.” Martie antwoord nie, want sy weet dis waar.
“Buitendien,” probeer Chris haar gerusstel, “ek dink nie juffrou Pol het ons gesien nie. Dit was te vinnig. Sy kon net gesien het daar is iémand voor die venster, maar nie wie dit was nie.” Chris kyk in die straat af. Die kat kan enige plek wees. Hy hou hulle seker steeds dop. Rex gee nog ’n paar blawwe. Hulle pa kom by die voordeur uit. “Hoekom blaf Rex so?” “Hy is maar net bly om ons te sien,” sê Martie. Sy kry dit reg om normaal te loop toe sy by die huis ingaan. “Kyk hoe natgesweet is julle!” sê hulle ma. “Het julle gehardloop?” “Ja,” antwoord Chris. “Dis tyd vir bad. Het julle lekker gekuier?” “Ons het ’n DVD gekyk,” jok Martie soos ’n veteraan. Sy kyk nie na Chris nie.
8 Voetspore Martie sukkel om te slaap. Sodra sy insluimer, skrik sy wakker, want allerhande monsters probeer haar in haar drome gryp. Een van hulle is ’n swart dierasie met skerp kloue en flitsende oë. Hy wys sy tande en sis vir haar. Maar uiteindelik raak sy rustig aan die slaap en skrik wakker toe sonlig by haar kamervenster instroom. Dit is Saterdag en sy kan verder slaap as sy wil. Maar skielik is sy wawyd wakker. Sy hoor haar pa van buite af inkom en sy woorde laat haar hart amper gaan staan: “Ek sal die motor moet afspuit. ’n Ellendige kat het deur die nag voetspore oral op die bakwerk gelos!”
9 Chris vis Dit is die eerste keer in sy lewe dat Chris wens ’n naweek wil verbygaan. Hy kan niks verder uitvind terwyl hy by die huis is nie. Toe Maandag uiteindelik aanbreek, kry hy nie ’n kans om alleen met ’n onderwyser te praat nie. Hy besluit hy sal dit doen na die laaste periode. Dan is hulle by meneer Vermaak, en hy is baie gaaf. Dit raak tyd vir die afkondigings . . . en dit duur vir ewig. As dit eers klaar is en die ander kinders loop, kan hy meneer Vermaak ’n bietjie uitvra. Die hoof wens die leerders ’n aangename middag toe, maar onderbreek homself: “Seuns en dogters, hier is nog ’n afkondiging. Martie Smit moet direk na skool asseblief vir juffrou Pol in die biblioteek gaan spreek.” Chris voel hoe sy bene lam word. Hy moet sy suster gaan help! Maar hy moet ook nóú die kans aangryp om met meneer Vermaak te praat. Die ander graadagts pak hulle boeke weg. Dit voel vir hom asof hulle dit baie stadiger doen as op ander dae. Hy bly in sy bank staan en karring met sy tas. Wat van Martie? Is sy al op pad biblioteek toe? Hoekom het die vrou haar laat roep? “Is jy nog hier, Chris?” spot die onderwyser toe hy hom gewaar. “Ek het gedink jy sal een van die eerstes by die deur uit wees!” Chris weet hy moet gou speel. “Juffrou Pol is mos nog nie lank hier by die skool nie, nè, Meneer?” “Dis reg,” sê Meneer Vermaak. “Sy het vroeg in November verlede jaar hier begin.” Hy frons. Dalk hou hy ook nie van haar nie, dink Chris. Dis een van die dinge wat hy wou weet – wat die personeellede van juffrou Pol dink.
“Een van die ouens het vir my gesê sy het eers skoolgehou op . . . Ag, wat is die plek se naam nou weer?” Meneer Vermaak trap in die slaggat. “George.” “Dis reg.” Dit is al wat Chris wou weet. Nou moet hy dit laat klink asof hy nie regtig wóú weet nie . . . en dan by Martie kom! “Ons was al op George.” “O?” Meneer Vermaak kan nie verstaan hoekom Chris hom dít vertel nie. “Daar is baie mooi inheemse woude,” sê Chris om die onderwyser nog verder te verwar. “Ja, daar naby,” glimlag meneer Vermaak. Chris tel vinnig sy tas op. “Tot siens, Meneer. Sien Meneer môre.” “Tot siens, Chris.” Meneer Vermaak kyk Chris agterna en skud net sy kop. “En dankie, Meneer!” roep Chris oor sy skouer. Toe nael hy in die gang af – al is dit teen die skoolreëls.
10 Die snuffelaars “Martie Smit moet direk na skool vir juffrou Pol in die biblioteek gaan spreek.” Toe Martie die afkondiging hoor, laat sy haar uitveër val. Sy wou dit ongemerk in haar potloodsakkie gesit het terwyl die onderwyseres anderpad kyk, sodat sy vinnig klaar kon inpak wanneer die klok lui. Die uitveër land op die vloer en bokspring oor die paadjie. Die onderwyseres kyk op. Aan haar glimlag is dit duidelik sy het agtergekom wat Martie wou doen. Martie kry dit nie reg om terug te glimlag nie. Sy is ontsettend bang. Hoekom wil juffrou Pol haar spreek? Die klok lui en sy en haar maats verlaat die klas. Engela gee vinnig pad; sy het vandag ’n mussie op haar kop. Martie steek in die gang vas. Dalk moet sy net nie gaan nie. Maar dan maak sy juffrou Pol dalk net kwaad . . . Sy loop stadig. Leerders loop in verskillende rigtings, maar niemand anders gaan biblioteek toe nie. Daar voor is die swaaideur. Haar voetstappe weerklink hard op die vloer. Sy is seker die vrou het haar lankal hoor aankom. Sy sluk swaar en stoot die swaaideur huiwerig oop. Daar staan juffrou Pol. Sy dra ’n wit bloes en ’n swart romp. Martie het nog nooit iemand gesien wat so netjies lyk nie. Sy lyk netjieser as ’n winkelpop. “Martie, ek is bly jy is hier.” Juffrou Pol hou ’n boek op. Haar naels is nog rooier as voorheen, en lyk langer. “Hier is die boek wat jy bestel het.” Martie sê verbaas: “Ek het nie ’n boek bestel nie, Juffrou!” “Ja, jy het. Die vorige keer toe jy hier was. Kom kry dit.”
Martie moet haar voorletters en van op ’n kaartjie skryf. Die vrou se parfuum is baie soet, soos jasmyn laat in die aand. “Dankie, Juffrou,” sê sy dan maar. Juffrou Pol stempel die boek. Tjappp! Martie kyk af. Die titel is Die snuffelaars. Dadelik weet sy die vrou gee vir haar die boek om haar te waarsku. Toe sê juffrou Pol: “Jy lyk moeg, kind. Het jy die naweek te veel rondgeloop?” Martie voel hoe sy bloos, en sy weet sy verklap haarself nou, maar sy kan dit nie help nie. Dit voel asof die paar groen oë tot in haar agterkop boor. “. . . Nee, Juffrou.” Die vrou klink té gaaf. “Jy sal nie vir my jok nie, of sal jy? Ek kan sweer ek het vir jou en jou broer een aand sien rondloop. Vrydagaand, dalk. Het ek my verbeel?” Juffrou Pol toring oor Martie. Martie kan nie asem kry nie. Die vrou se parfuum is so soet, sy gaan verstik. Toe hoor sy die swaaideur oopgaan en ruk om. “Martie!” sê Chris. “Ma is haastig, sy wil ry. Ek het jou kom haal.” Hy kyk na die vrou. “Het Juffrou klaar met haar gepraat?” Juffrou Pol stap verby Martie tot by Chris. “Jy weet, ou seun, jy en jou sussie het die mooiste hare.” Chris ril toe sy oor sy kop vryf. Dit voel asof ’n rot deur sy hare hardloop, en hy ruk weg. ’n Glimlag speel om juffrou Pol se mond. “Sulke mooi kinders, maar so afsydig . . .” “Ons moet gaan, Juffrou. Martie, kom!” Terwyl juffrou Pol se aandag by Chris was, het Martie ongesiens by die toonbank gaan staan. “Ek kom.” Juffrou Pol gee ’n suggie. “Tot siens dan maar.” Sy wikkel haar vinger soos sy die eerste dag in die motor gemaak het. “Ek sien julle weer.” Toe hulle anderkant die swaaideur is, begin die snuffelaars hardloop.
11 Dis weg! Juffrou Pol luister hoe hulle voetstappe in die gang af verdwyn. Dít sal hulle leer om in te meng! Sy het besluit hulle is volgende op haar lys. Hulle wil mos alles weet. Goed, hulle sál – maar nie voor dit te laat is nie! Sy gaan toonbank toe om haar dagboek te kry. Sy skrik! Dit is nie meer daar nie. Dit is die dagboek waarin sy al haar gedagtes en planne neerskryf. Dit het hiér gelê, waar Martie ’n rukkie gelede gestaan het . . . Die klein pestilensie! Wie sou kon dink Martie het die moed gehad om hier iets te vat? Juffrou Pol hamer met haar vuis op die toonbank sodat die stempel tien sentimeter in die lug opspring. Die woede kook in haar soos ’n brousel in ’n pot. Sy dwing haarself om kalm te raak. Haar asemhaling word rustiger. Sy het in elk geval besluit hulle sal haar laaste twee kandidate wees. Al wat hulle reggekry het met hulle snuffelry, is dat sy haastig moet optree. Die twee speurdertjies sal bitter vinnig leer met wie hulle kan mors en met wie nié.
12 Die dagboek Dié middag, toe hulle ma weg is om te gaan inkopies doen, vra Chris: “Waar is die dagboek?” “Hier,” sê Martie, en gee vir Chris die boek aan. Dit is met stylvolle blou papier oorgetrek. “Nou het ons vir Pol net waar ons haar wil hê. Hierdie keer gaan sy nie wegkom nie.” Chris grynslag. Toe Rex die sitkamer binnedraf, gee Chris ’n harde blaf. Rex kyk verward op, soos elke keer as Chris dit doen. Sy blaf klink nes ’n regte hond s’n. “Moenie hom terg nie!” sê Martie. “Wa-f!” maak Chris. “Wa-f!” Rex begin opgewonde te blaf. “Hou op! Ek gaan vir Pa sê!” “Klikbek . . .” Chris hou die dagboek op. “Slim van jou om dit te gegaps het.” “Dit het belangrik gelyk. Toe ek sien daar is nie net datums en goed in nie . . .” “Ons hoef nie eens hierin te kyk om te weet dis Pol se werk dat Bertus, Engela en Kevin kaalkop is nie. Maar hóékom? Is dit net omdat sy daarvan hou om kinders goor te laat voel?” Chris begin deur die dagboek te blaai. Ongelukkig is die eerste datum 1 Januarie en niks word gesê van wat juffrou Pol alles op George gedoen het nie. Die eerste paar bladsye is vervelig – beskrywings van hoe sy haar nuwe huis versier het, watter nuwe klere sy gekoop het . . .
Sy kla ’n paar keer oor hoe hard sy aan die jas werk. Chris weet sommer dadelik dis die jas wat hulle haar Vrydagaand voor die spieël sien aanpas het. Maar hoekom is dit vir haar so belangrik? Toe is daar ’n interessante brokkie. Die inskrywing vir 14 Januarie, twee dae voor die skole sou begin: Ek het vanoggend net die regte kandidaat in die straat gewaar. Ek het met hom gaan gesels. Hy gaan nou graad ses toe en sy naam is Kevin Bruce. Ek het hom gevolg en gesien waar hy woon. Môre sal ek doen wat gedoen moet word. “Ons hét haar!” roep Chris uit. “Sy het alles hier neergeskryf!” Hy blaai om. Op die volgende bladsy, by 15 Januarie, staan daar: Alles het volgens plan verloop. Dit was nie eens vir my nodig om Kevin te nader nie; hy het sommer geweet dit was ek wat dit gedoen het. Ek het bloot in my motor voor sy ouerhuis gesit, toe kom hy na my toe, al huilend. Ek het gesê wat hy moet doen om dinge te kry soos dit was. Hy het dadelik ingestem. Op 16 Januarie het juffrou Pol net een sin geskryf: Kevin het woord gehou. “Maar dis alles so vaag!” sê Chris teleurgesteld. “Wát het gebeur?” “Sê sy nie?” vra Martie, en kyk ook in die dagboek. “Nee. Verder praat sy net van skoolgoeters. Hoe sy die biblioteek wil herrangskik, en so aan.” Toe lees hy wat sy die vorige Vrydag geskryf het: Chris en Martie Smit het vanaand hier kom spioeneer. Dalk moet hulle my volgende kandidate wees . . . “Kandidate vir wát?” vra Martie ontsteld. “Ek het jou mos gesê, dit het iets met ons hare te doen,” sê Chris. Dit voel vir hom asof iemand ’n koue hand op sy nek sit. “Ek is seker dís wat Kevin en Bertus en Engela moes doen – hulle hare afskeer. Rooibruin hare.” “Wat wil sy met ons doen?” Martie se stem raak hoog. “Gaan sy ons hare ook afskeer?”
“Nee.” Chris tik op die dagboek. “As ons dié ding vir iemand wys, is sy in groot moeilikheid. Ons moet môre na haar toe gaan, sodat sy vir ons kan sê . . .” “Nee!” skree Martie. “Sy’s gevaarlik, Chris. Sy sal ons doodmaak!” “As ons vir haar sê wat ons weet, sal sy vir ons die res móét vertel. Daar moet tog ’n wet teen so iets wees.” “Ons moet vir Pa sê! Of polisie toe gaan!” “Nog nie.” Chris vat aan Martie se arm. “Buitendien, dink net hoe verbaas sal hulle wees as ons die saak self opgelos het. Ek en jy.” Martie raak stil. “Seker maar . . .” is al wat sy uitkry. Chris kan sien sy is nog altyd bang. Hy is óók. Maar terselfdertyd is hy opgewonde. Hier gebeur snaakse dinge en hy wil uitvind wat aangaan. “Dan gaan praat ons môre met haar in die biblioteek,” sê hy. “Eerste pouse.”
13 Antwoorde “Ek het julle verwag,” sê juffrou Pol toe hulle by die swaaideur inkom. Daar is weer nie ’n siel in die biblioteek nie. Die leerders voel seker almal die aakligheid aan, dié dat hulle wegbly. “As ons polisie toe gaan, is jy in die moeilikheid,” sê Chris, wat haar aspris nie Juffrou noem nie. Sy moet sommer dadelik besef hulle weet alles en hulle is ernstig. Maar die vrou gee ’n skel, harde lag en loop verby hulle tot by die swaaideur. Sy sluit dit en sit die sleutel in haar sak. “Nou praat ons ’n slag ordentlik,” sê sy met ’n yskoue stem. Martie word bleek, en Chris vat haar hand. Dit voel sweterig. “Ons weet wat jy gedoen het,” sê hy. “Nou wil ons weet hoekom.” “Hoekom, hoekom, hoekom,” eggo die vrou smalend. “Weet julle wat het met die nuuskierige kat gebeur?” Sy maak haar vingers krom en hou die klou na Martie toe uit. “Nee!” skree Martie. “Moenie worry nie,” sê Chris. “Sy kan niks aan ons doen hier by die skool nie.” Juffrou Pol staan terug. “Jy is reg, my ou slim seun.” Sy gaan voort: “Ek sál vir julle antwoorde gee. Dit gaan lekker wees om julle te vertel – want julle kan niks met die inligting maak nie.” “Dis vir ons om te besluit,” antwoord Chris. Vanmiddag wil hy probeer uitvind of daar op haar vorige tuisdorp ook kaalkop-kinders was. Dit sal inligting wees wat hy vir die polisie kan gee, dan kan húlle verdere bewyse op George gaan soek. “Ag, die waarheid is altyd so vervelig,” sê juffrou Pol. “Dis veel interessanter om oor dinge te wonder. Maar die antwoord is: Ek maak ’n
jas. As dit klaar is en ek dra dit, sal ek mense volkome kan beheer.” Chris sê: “Met ’n jas? Dis simpel. Sulke goed gebeur nie!” Sy haal haar skouers op. “Glo wat jy wil.” “Strooi! Ek glo nie in sulke goed nie!” Juffrou Pol onderbreek hom: “As jy nog nie in my glo nie . . . Wel, jy sál.” Chris skud sy kop en vra: “Wat het die jas met Bertus-hulle te doen?” “Weet jy regtig nie? Jy het dit tog gesien.” Toe besef hy: “Dis nie van draadjies gemaak nie – dis van kinders se hare!” “Reg!” roep die vrou uit, so hard dat Martie terugdeins. “Hoe het jy hulle sover gekry om vir jou hulle hare te gee?” “Ek het iets van hulle gevat wat hulle wou terughê. Toe gee hulle vir my iets anders in ruil daarvoor.” “Bertus was die een dag nog bang vir jou, en die volgende dag kon hy dit nie onthou nie. Hoekom nie?” Die vrou sê: “Ek het hom en die ander gehipnotiseer, dis hoekom hulle vergeet het. Ek kan nou nog net ’n paar mense op ’n slag hipnotiseer, maar as die jas klaar is, sal ek ’n hele skare my bevele kan laat uitvoer!” “Laat ons asseblief gaan!” pleit Martie. Die vrou bring haar hand tot by haar linkeroog, sit haar vinger in die oog . . . en haal haar groen kontaklens uit. Toe doen sy dieselfde met die ander oog. Chris voel hoe die vrees in hom opstyg. Twee pers oë kyk stip na hom. “Glo jy nóú in my?” vra die vrou. “Jy . . .” Met ’n vinnige gebaar pluk sy haar blonde pruik af. Net hier en daar klou ’n lang, kleurlose haar aan haar pienk skedel vas. “Glo jy nóú in my?” Chris wil uitkom, maar dit voel asof sy voete aan die houtvloer vasgegom is. “Gee vir my die dagboek,” sê die vrou. Chris wil sê hy het dit nie by hom nie, maar die pers oë oorweldig hom. Hy grawe in sy tas en gee die dagboek vir haar. “Dankie.” Sy sit dit in haar handsak. “Nou het julle geen bewyse meer nie. En weet julle wat nóg? Ek het pas julle monde gesnoer. Julle sal vir niemand iets van my planne kan sê nie.” “Is jy nou klaar met ons?” Chris sluk.
“Nee. Daar is nog ’n oop kol op die jas. Twee kinders se rooibruin hare moet dit vol maak – julle s’n.” “Nee!” roep Martie uit. “Bly stil,” sê die vrou. “As julle dit nie doen nie, is julle julle ouers kwyt.” “Wat!” sê Chris. “Dis hoe ek kinders dwing om vir my hulle hare te gee. Ek ontvoer hulle ouers. Ek kan nie net kinders se hare steel nie; hulle moet dit vir my géé. Dan het dit meer krag.” Chris skree: “Jy los ons ouers uit!” Die vrou lag skel. “Julle sal my nie kan keer nie.” Toe sit sy haar groen kontaklense terug en druk die pruik op haar kop. Sy lyk weer soos ’n gewone mens. Sy sluit die deur oop. “Tot siens, vir eers.”
14 Die kat Die donker het vanaand gou gekom. Die wind loei buite en elke nou en dan skraap ’n tak teen die venster soos ’n dier wat inkomplek soek. Chris en Martie is saam met hulle ouers in die sitkamer. Die horlosie in die gang het pas nege slae geslaan. “Julle moet nou-nou gaan slaap,” sê hulle ma. “Ja, Ma,” sê Chris, maar hy weet hulle sal nie kan slaap nie. Martie kyk nie na die venster toe nie. Sy is bang sy sien ’n gesig wat deur die gordyne loer. Elke keer as sy iets oor juffrou Pol wil sê, is dit asof haar tong swaar word. Maar sy probeer weer. “Ma . . .” Haar ma laat sak die tydskrif wat sy lees. “Mmmm?” Martie wil sê hulle moenie by die huis uitgaan nie, nie vanaand nie en ook nie môre nie . . . maar die woorde raak weg. Sy begin sweet. Haar ma frons. Toe sê Martie: “Ek is nog nie vaak nie.” Sy moes iéts sê. Haar ma glimlag net en lees verder. Weer krap ’n tak teen die venster. Martie sien hoe Chris ruk en hy venster toe kyk. Rex lig sy kop en grom saggies. “Hoekom is julle vanaand so op julle senuwees?” vra hulle pa. “Dis sommer niks,” sê Chris. Hy staan ongeërg op en gaan venster toe. Hy druk sy gesig teen die ruit en kyk buitentoe. Martie verwag juffrou Pol gaan skielik háár gesig teen die glas druk, en sy sidder. Rex lig weer sy kop. Hy het iets gehoor.
Martie het ook – ’n miaau-geluid. “Dis weer daai dekselse kat!” sê hulle pa en staan op. “Laat ek gaan kyk of ek die vabond sien.” “Nee!” skree Martie. Haar pa kyk verbaas na haar. “Hoe dan nou, my meisie?” Sy wil vir hom sê hy moenie by die voordeur uitgaan nie, want dan sal die vrou hom gryp, maar sy het geen beheer oor haar tong nie. So sy sê maar: “Ek is lief vir katte.” Sy wás! Haar pa glimlag. “Ek gaan hom mos nie seermaak nie. Ek wil hom net verwilder.” Hy sluit die voordeur oop en gaan buitentoe. ’n Ysige wind kom by die sitkamer in. Dit voel vir Martie asof juffrou Pol daarmee saam die vertrek binnegewaai het. Hulle pa bly buite. Hy kom nie terug nie. “Pa?” roep Martie. Sy is te bang om te gaan kyk. “Pieter?” roep hulle ma. “Ons kry koud!” Hulle pa kom terug en Martie kan weer asemhaal. “Die kat is nêrens nie,” sê hy en maak die deur toe. “Sluit dit, Pa!” sê Martie. Hy doen dit glimlaggend en sê vir hulle ma: “Hulle is regtig op hulle senuwees vanaand. Ek wonder wat gaan aan met hulle?” Hulle ma staan op en sê beslis: “Ek dink dis tyd dat hulle bed toe gaan.” “Ma . . .” kla Chris. “Kom, kom, kom.”
15 Wawyd wakker Twee uur later lê Martie in haar bed, nog wawyd wakker. Sy is seker Chris slaap ook nie. Hulle pa en ma se kamerdeur is toe. Sy het vyf minute gelede opgestaan en gaan luister of hulle nog daar is, of hulle nog nie ontvoer is nie. Miskien het juffrou Pol net ’n grap gemaak. Miskien wou sy hulle net skrikmaak. Sy sal mos nie regtig . . . Maar Martie was verlig toe sy haar pa liggies hoor snork. Toe het sy weer kom lê. Sy mag nie slaap nie. Sy kán nie! Elke geluidjie laat haar regop sit. Die maan gooi ’n wit straal deur die skrefie in haar gordyne. Sy staan op, maar voordat sy dit dig toetrek, kyk sy vinnig na buite. Die bome is vannag ekstra swart. Sy wil nie verder kyk nie, sy is te bang sy sien iets. En sy is net so bang daar is dalk iets wat sy nié sien nie. Hulle moet hulle ma en pa beskerm. Hulle sorg al hulle lewe lank vir haar en Chris, en nou moet sy en Chris vir hulle sorg. As hulle net geweet het hoe. Hulle sal moet keer dat daar iets met hulle ouers gebeur. Keer dat daardie vrou hulle . . . Martie maak haar oë toe, dan weer oop. Sy moet wakker bly en skree as sy ’n deur of ’n venster hoor oopgaan. Toe dink sy aan iets anders. Die boek wat sy verlede Woensdag by die biblioteek uitgeneem het, die een oor Hansie en Grietjie, moet môre ingegee word. Sy sal dit móét terugvat . . .
16 Skool toe Die volgende oggend is Martie doodmoeg. Chris gee ook sulke lang gape aan die ontbyttafel. Martie kry nie haar pap afgesluk nie. Dit voel of dit in haar keel vassit. “Ek voel nie lekker nie,” sê sy. Haar ma vat aan haar voorkop en frons: “Jy het nie koors nie, jy kan nie by die huis bly nie. Is daar probleme by die skool?” Martie wil iets sê, maar haar tong wil nie werk nie. So sy sê maar net: “Nee, Ma.” Sy staan op van die tafel en gaan kamer toe om aan te trek. Sy wil nie haar ma alleen by die huis los nie. Sy wil ook nie skool toe gaan en die boek biblioteek toe vat nie. Niemand verstaan nie! Die enigste grootmens wat weet, is daardie vrou! Toe hulle saam met hulle pa motor toe loop, draai Chris om en sê: “Ma moet versigtig wees.” Sy ma lag. “Hoekom?” Martie sien Chris kan niks sê nie. Hoe wens sy sý kon! Al wat sy kan doen, is om tot siens te waai terwyl hulle saam met hulle pa in die pad afry, en hulle ma se figuur al hoe kleiner word daar waar sy op die voorste grasperk staan.
17 Die oproep Daar is min lig in die biblioteek, want juffrou Pol hou nie baie van lig nie. Sy weet die leerders hou nie van die somber atmosfeer nie, maar dit traak haar nie. Die hoof het verlede Woensdag vir haar kom sê om die gordyne oop te trek. Sy het haar kontaklense uitgehaal en hom gehipnotiseer, sodat hy op die ou einde vir haar om verskoning gevra en self die laaste gordyn toegetrek het. Dink net! As die jas voltooi is, kan sy bank toe gaan en die bestuurder beveel om vir haar ’n miljoen rand te gee uit iemand anders se rekening – en om dan die polisie te bel en te sê hy het dit self gesteel . . . As sy nie van iemand hou nie, sal sy hom by ’n hoë gebou laat afspring. Sy kan staatspresident word. Sy kan die wêreld se president word! Maar eers moet sy Chris en Martie Smit se hare in die hande kry. Dit móét kinderhare wees, want dit het sterker groeikrag as grootmense s’n. En die kinders moet hulle hare gee omdat hulle lief is vir hulle ouers. Sy het besef dis die kombinasie van krag en liefde wat die jas so ’n magtige wapen maak. Elke keer wanneer sy dit aanpas, voel sy die mag sterker word. Haar mag is op die oomblik nog beperk. Net soms hipnotiseer sy iemand – soos die hoof, wat haar die pos as bibliotekaris gegee het nadat sy van George af hierheen getrek het. Sy is daar weg omdat die mense agterdogtig begin raak het toe te veel kinders hulle hare verloor.
Nou is dit tyd om tot aksie oor te gaan. Juffrou Pol haal haar selfoon uit haar laai en skakel Chris-hulle se huisnommer. Dit lui aan die ander kant. Toe gaan die swaaideur oop en Martie kom die biblioteek binne. Juffrou Pol druk die selfoon dood. “Wat wil jy hê?” “Ek het die boek teruggebring, Juffrou,” stotter Martie en hou dit na haar toe uit. “Reg.” Sy vat die boek. “Toe, weg is jy. Ons praat later.” Sy skakel weer die nommer. Dié keer antwoord ’n vrou amper dadelik. “Hallo?” Juffrou Pol span haar bekommerde stem in: “Is u Martie en Chris Smit se moeder?” “Dis reg?” “U ken my nie, maar ek is juffrou Pol, een van hulle onderwyseresse. Ek moet dringend met u kom gesels. Dit gaan oor u kinders.” Sy weet mevrou Smit sal val vir die slenter. Al die ander ouers het. “Is daar fout?” Die vrou klink bekommerd. Juffrou Pol glimlag gemeen. “Ja, ek is bevrees daar is. Maar ek is seker ons kan die probleem oplos. Hoe gou kan ek met u en u man kom praat?”
18 Nog ’n oproep Toe die klok aan die einde van die dag lui, hardloop Chris en Martie om by hulle ma se motor te kom. Dit is nie daar nie. Al die ma’s en pa’s wat gewoonlik vir hulle kinders wag, is daar, net húlle ma nie. “Sy het vir Ma ontvoer!” roep Martie uit. Sy laat haar tas val en sit haar hande oor haar gesig. Haar hele lyf ruk. “Nee, man, ons weet dit nog nie!” Chris sit sy arms om haar. Hy gee nie om dat die mense kyk nie. “Sy sal seker oor ’n rukkie hier wees.” “Daai vrou het haar weggelok! Dis hoekom sy tweede pouse geloop het!” Daar was ’n afkondiging dat juffrou Pol weens ongesteldheid nie die laaste paar periodes by die skool sou wees nie. ’n Vrou hou stil en rol haar motorruit af. “Is iets verkeerd?” ’n Meisie langs haar kyk hulle nuuskierig aan. Chris wil iets sê van juffrou Pol, maar natuurlik kom die woorde nie. Hy sê net: “Niks nie, Tannie. My suster voel nie lekker nie, maar my ma sal nou hier wees.” Hulle wag nog ’n paar minute. Al die motors verlaat die parkeerarea. Dit is net hulle wat oorbly. “Kom ons loop maar huis toe,” sê Chris. “Dalk is daar fout met Ma se kar.” Toe hulle by die huis kom, sien hulle die motor is nie daar nie. Dit staan gewoonlik in die oprit. Die ekstra voordeursleutel is onder ’n blombak, waar dit altyd weggesteek word. Chris sluit die voordeur oop. Die huis voel ontsettend leeg.
“Ma?” roep Martie. Sy hardloop by Chris verby. Na ’n minuut kom sy terug. “Sy is nie hier nie!” Haar gesig is rooi soos sy die paniek probeer terughou. “Ons moet vir Pa bel,” sê Chris. “Hy sal weet wat om te doen. Ons kan nie vir hom sê wat gebeur het nie, net dat Ma weg is – dan sal hy die polisie laat kom. Pol móés iewers ’n fout gemaak het. Die polisie sal agterkom sy was hier, en dan . . .” “Ja, bel nou dadelik!” Martie klink histeries. Chris skakel sy pa se kantoornommer. ’n Vrou antwoord. “Kan ek asseblief met meneer Smit praat?” vra hy. “Ek is jammer, meneer Smit is vanoggend al uit. Hy en sy vrou het ’n dringende afspraak gehad.” “O. Ek . . .” Chris sit neer. Die oomblik toe hy dit doen, lui die telefoon. Hy en Martie ruk soos hulle skrik. Chris tel op. “Hallo?” Juffrou Pol se stem is hard. “Ek het julle ouers. As julle hulle lewend wil sien, moet julle maak soos ek sê.” Chris se stem bewe. “Wat moet ons doen?” “Julle moet vanaand nege-uur by my huis wees. Julle, en niémand anders nie. Verstaan jy?” “Ja,” sê Chris en kyk bekommerd na Martie. Daar is ’n spotklank in die vrou se stem: “Julle hoef niks saam te bring nie. Ek het ’n elektriese skeermes. Maar doen my ’n gunsie en was julle hare vanmiddag. Ek haat dit om met vuil hare te werk.” “As ons doen wat jy sê, sal jy jóú woord hou?” “Wag en kyk,” sê die vrou. “Ek sien julle nege-uur.” Chris lui af. “Wat gaan ons doen?” vra Martie. “Sy het gesê ons moet nege-uur daar wees, maar as ons al agtuur daar is, verras ons haar dalk . . .”
19 Terug na die huis “Nee, Rex, jy kan nie saamkom nie,” sê Chris. “Jy sal net op die verkeerde tyd blaf en dan weet sy van ons.” Hy maak die voordeur toe. Rex krap teen die hout, asof hy weet hulle word bedreig en hy hulle wil beskerm. Chris dink aan al die kere toe hy Rex geterg het deur nes hy te blaf. Dit voel asof hy jare laas pret gehad het en nooit weer sal hê nie. Hy kyk na Martie. “Is jy bang?” vra hy. “Nee,” sê sy en verras hom. “Ek is kwáád!” Nes die vorige keer toe hulle na die vrou se huis toe geloop het, verwring die lampligte hulle skaduwees. Dit lyk asof gedrogte voor hulle in die pad af dans en donker sakke agter hulle aansleep. Dit is net na agt. “Ons moet probeer om die jas in die hande te kry,” sê Chris. “As ons dit het, sal sy Pa en Ma vir ons móét gee.” Maar Chris weet daar is nog heelwat probleme. Al kry hulle dit reg om hulle ouers te bevry, sal die vrou nog altyd mense kan hipnotiseer. En sy sal gou nuwe slagoffers kry – daar is ander kinders met rooibruin hare in hulle skool en in ander skole. En as die jas eers klaar is . . . Die vrou moet nóú gekeer word. Hulle is in Dennestraat. Nog net een blok. Martie voel die vrees in haar opstyg. ’n Minuut of wat later sê Chris: “Daar voor is die huis.” Hulle loop onder die wilgerbome deur, sodat juffrou Pol hulle nie kan sien as sy dalk by ’n venster uitkyk nie. “Kom,” fluister Chris.
Hulle sluip tot by die venster waar hulle laas die vrou afgeloer het. Daar brand nou geen lig nie, ook nêrens anders in die huis nie. Beteken dit sy is nie hier nie? Martie wil nog ’n tree gee om by die venster te kom, toe sy ’n sisgeluid hoor. Sy swaai vinnig om en sien die geel oë wat vir haar flits. ’n Kat nael skielik verby hulle en spring by die venster in. “Hy wóú ons skrikmaak!” fluister sy vir Chris. “Moenie laf wees nie!” sê hy, maar Martie kan aan sy stem hoor hy het self geskrik. “Wat nou?” “Ek dink sy is iewers heen. Dalk kom sy eers net voor nege terug. Dit gee ons meer as ’n halfuur om in te kom en te kyk of ons vir Pa-hulle kry. Ek dink nie sy sou hulle iewers heen gevat het nie.” “Moet ons rêrig ingaan?” Martie se stem bewe. “Ons móét!” Chris maak die venster wyer oop. “Hoekom het sy die venster oop gelos? En sê nou daar’s ’n alarm?” “Dis ’n kans wat ons moet vat,” antwoord Chris. Hy klouter deur en gryp Martie se hand. “Komaan.” Hy help haar in. Die vertrek is yskoud. Hulle staan eers vir ’n rukkie stil tot hulle kan sien wat om hulle aangaan. Daar is geen meubels nie, buiten die tafel waar die vrou laas aan die jas gesit en werk het . . . en ’n kas in die hoek. “Sy werk in dié vertrek, so sy bêre dalk die jas in daardie kas,” fluister Chris. Hy gaan soontoe en trek aan die handvatsel. Die deur gaan met ’n kraakgeluid oop. “Sjjjtt!” sê Martie. Chris trek dit versigtiger oop. Dit ruik na mottegif. Daar hang ’n klomp klere, maar hy kan nie uitmaak of die jas daar is nie. “Is dit daar?” vra Martie. “Ek dink nie so nie.” Hy voel in die kas rond. “Dis nie hier nie. Ons sal verder moet soek.” Martie fluister: “Vergeet van die jas, ons moet vir Ma-hulle kry!” “Jy’s reg. Kom!” Hulle loer in die gang af. Dit is baie donker en hulle moet hulle pad voel- voel soek. Hulle loop verby ’n badkamer met ’n kraan wat drup. Drup, drup.
Waar is die kat nou? Martie is doodbang sy trap dalk per ongeluk op sy stert. Is juffrou Pol hier? Slaap sy? As sy nié hier is nie, wanneer kom sy terug? Die kombuis is leeg. “Kom ons gaan kyk in die sitkamer,” fluister Chris. “Dit moet die vertrek daar reg voor wees.” Hulle beweeg geruisloos in die gang af. Toe Martie aan die muur raak, is dit koud en klewerig soos ou gom. Sy trek vinnig haar hand weg en smeer die taaiheid aan haar denim af. Hulle kom by die sitkamerdeur. Hier, nes elders, is die gordyne toe en geen lig vanaf die straat kom by die vertrek in nie. Maar hulle kan sien daar staan ’n paar stoele. En in die stoel naaste aan hulle . . . Martie trek haar asem in. Sy keer die gil net betyds. Die persoon wat in die stoel sit, kom orent. “Hier is julle uiteindelik,” sê die vrou. “Ek dag julle kom nooit nie.”
20 Kat en hond Juffrou Pol steek ’n kers aan en sit dit in ’n kershouer op die tafel neer. Agter die kers op die tafel lê die jas. Chris begin te bewe, maar hy weet hy moet kophou. In twee van die ander stoele sit hulle pa en ma. Hulle is vasgebind en hulle monde is toegeplak. “Ons het al verveeld begin raak,” sê die vrou. Sy het nie die moeite gedoen om haar pruik en kontaklense te dra nie. In die kerslig blink haar kaal kop en haar pers oë glinster onheilspellend. “Pa! Ma!” Martie hardloop na hulle toe en gooi haar arms om hulle. “Hoe aandoenlik,” sê die vrou, “maar ons het nou eers sake om af te handel.” Chris sê: “As ons nou skree, sal die bure kom kyk wat aangaan. Jy moet ons dadelik laat gaan.” Hy kan in sy ma se oë sien hoe bang sy is. Die vrou se stem is skerp: “Julle moet eers julle deel van die ooreenkoms nakom.” Dit maak Chris nog banger, maar hy sê: “Ons het geen ooreenkoms met jou nie. Jy het ons ouers ontvoer – hoe kan jy dit ’n ooreenkoms noem!” Toe voel dit asof ’n boorpunt deur sy kop gaan. Die vrou se pers oë dring al dieper in syne in en hy het skielik niks meer om te sê nie. “Nou bly jy stil,” beveel sy. “Ons sal sien of jy môre nog so ’n groot mond het, as al die kinders by die skool vir jou lag!” Martie hou haar ma stywer vas. “Kom weg daar!” sê die vrou. “Voor jy dalk daaraan dink om jou pa en ma se toue los te maak.”
Chris wil die vrou bespring, maar sy kyk weer na hom en sê: “Bly staan net waar jy is.” Chris wil beweeg, maar hy kan nie. Hy kan nie eens sy tone roer nie. Hy voel heeltemal lam. Juffrou Pol kyk na Martie. “Kom hier.” Martie begin stadig na haar toe loop. Die vrou trek een van die tafel se laaie oop en haal ’n elektriese skeermes uit. Die kat kom by die deur in en spring op die tafel, waar hy hom bo-op die jas tuismaak. In die lig van die kers langs hom is sy oë soos geslypte lemme. Die vrou druk die skeermes se koord in die muur en skakel dit aan. Die geluid sny deur die toe vertrek. “Asseblief, moenie!” skree Martie. “Kom,” sê juffrou Pol. Martie gaan tot by haar. Die vrou vat oor haar kop. “Sulke lieflike hare . . .” Sy wys na die jas: “Maar dit is ook ’n lieflike jas. Ek sal deurnag werk, en môre is dit klaar. As julle by die skool kom, is ek die nuwe hoof. En dit is maar net die begin!” Sy gryp Martie se hare vas. “Jy onthou wat ek gesê het, nè? Ek kan net krag uit kinders se hare kry as hulle dit self vir my gee. Nou, géé jy jou hare vir my?” Martie kry nie ’n woord uit nie. Sy bewe te veel. Die vrou se stem raak skril: “Kyk goed na jou ouers daar oorkant! Gee jy jou hare vir my?” “Ja,” kerm Martie. Chris probeer beweeg, maar sy bene werk nie saam nie. Hy het nog nooit so hulpeloos gevoel nie. Die kat knik tevrede, asof hy vir sy eienares sê sy moet klaarmaak. Hy lek sy poot behaaglik. Chris kyk na die kat op die jas. As die jas iets oorkom, het die vrou geen rede meer om hulle hare te steel nie. En dit lê reg langs die kers. Juffrou Pol lig die skeermes, reg om Martie se hare te begin afskeer. Rex! Skielik gee Chris sy Rex-blaf. In die toe vertrek is die geluid oorverdowend. Die kat kom orent en sy hare rys.
Chris blaf weer, harder, kwaaier. Dan gebeur dit waarop hy gehoop het: Die kat sis en spring opsy. Sy naels haak in die jas vas en hy sleep dit saam. En hy stamp die kers om. Die jas vat vlam. “Nee!” gil juffrou Pol en laat val die skeermes. Sy stamp Martie uit die pad in haar haas om by die jas te kom. Noudat haar konsentrasie verbreek is, kan Chris meteens beweeg. Hy kry die vrou aan haar enkel beet en hou styf vas. Die jas is in vlamme gehul. Chris het nooit kon dink dat kinders se hare só sal kan brand nie. Die vrou se gesig vertrek van haat. Sy skop na hom en hy laat los haar enkel. Sy steier tot by die jas, maar die volgende oomblik spring die vlamme tot op haar rok. Sy gil. Sy begin brand. Hulle sien met afgryse hoe sy begin smelt. Haar gesig verwring in ’n lopende massa, dan haar arms en dan haar bene. Sy is besig om heeltemal van vorm te verander. Chris en Martie storm na hulle ouers toe en wikkel die toue vinnig los. “Ons moet die vrou probeer red!” sê hulle ma. Maar hulle sien dit is te laat. Daar is amper niks meer van die vrou met die pers oog oor nie. En die jas? Net ’n stink, geskroeide smeulende massa op die vloer. En die kat? Hy is net weg.
21 Alles is anders Dit is ’n week later en Chris en Martie gaan een pouse biblioteek toe. Die nuwe juffrou se van is Roux. “Kan ek help?” vra sy vriendelik. “Ons kyk net, Juffrou!” sê Chris. Die biblioteek se gordyne is nou oopgetrek en die atmosfeer is heeltemal anders. Daar is mooi nuwe plakkate van laggende kinders met boeke teen die mure en dit ruik ook sommer lekker. Chris glimlag vir Martie. “Kom ons waai.” “Nee, ek wil eers ’n boek uitneem.” “Net nie weer Hansie en Grietjie nie! Ek het genoeg van daai soort goed gehad!” Martie kies ’n boek oor katte. “Van katte het ek ook genoeg gehad,” grom Chris. Martie glimlag net. Hy weet nog nie sy het voor pouse vir ’n vriendin gesê sy wil graag een van haar kat se kleintjies hê nie . . .
Opsomming Chris en Martie is in ’n nuwe skool, maar van die eerste dag af kom hulle agter alles is nie so gewoon soos dit maar in skole is nie. Hulle nuwe maats begin snaaks optree, en dan is daar die outjie sonder hare en die vreemde biblioteekjuffrou. Toe hulle stadig maar seker ingetrek word in dié eienaardighede, besluit Chris en Martie om ondersoek in te stel – en dis nie lank nie, of hulle beland in die kloue van die vrou met die pers oog. Die tweede boek van agt boeke in François Bloemhof se Rillers-reeks.
Oor die skrywer François Bloemhof is die skrywer van meer as 50 boeke, waarvoor hy al verskeie pryse gewen het. Hy is ook bekend vir sy verhoog- en radiowerk en skryf gereeld vir tydskrifte en koerante. Hy hou van rekenaars. Hy het vier katte, maar nie een van hulle is swart nie. Hy’s verslaaf aan sjokolade en droom in kleur. François woon in Durbanville, Kaapstad.
Eerste uitgawe in hierdie vorm 2011 deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad 8001 Posbus 6525, Roggebaai 8001 Suid-Afrika www.humanrousseau.com Kopiereg © 1996 François Bloemhof Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of - ontsluiting. E-boekontwerp deur Trace Digital Services Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7981-5532-8 Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2015 ISBN: 978-0-7981-5599-1 (epub) Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2015 ISBN: 978-0-7981-7117-5 (mobi)
Inhoud Titelblad Opdrag 1 – Die snaakse seun 2 – Juffrou Pol 3 – Broers en susters 4 – Vreemd … 5 – Pienk Vrydag 6 – Ons moet! 7 – Nommer 13 8 – Voetspore 9 – Chris vis 10 – Die snuffelaars 11 – Dis weg! 12 – Die dagboek 13 – Antwoorde 14 – Die kat 15 – Wawyd wakker 16 – Skool toe 17 – Die oproep 18 – Nog ’n oproep 19 – Terug na die huis 20 – Kat en hond 21 – Alles is anders Oor die boek Opsomming Oor die skrywer Kolofonbladsy
Table of Contents Titelblad Opdrag 1 – Die snaakse seun 2 – Juffrou Pol 3 – Broers en susters 4 – Vreemd … 5 – Pienk Vrydag 6 – Ons moet! 7 – Nommer 13 8 – Voetspore 9 – Chris vis 10 – Die snuffelaars 11 – Dis weg! 12 – Die dagboek 13 – Antwoorde 14 – Die kat 15 – Wawyd wakker 16 – Skool toe 17 – Die oproep 18 – Nog ’n oproep 19 – Terug na die huis 20 – Kat en hond 21 – Alles is anders Oor die boek Opsomming Oor die skrywer Kolofonbladsy
Your gateway to knowledge and culture. Accessible for everyone. Official Telegram channel Z-Access https://wikipedia.org/wiki/Z-Library z-library.sk z-lib.gs z-lib.fm go-to-library.sk This file was downloaded from Z-Library project